Koma

Songs en lirieke deur Danie du Toit

Musiek deur Spoegwolf

Kletsrym deur Albert van der Merwe

1. KOMA (AS EK HIER UIT KAN KOM)

 

Twee siele ontmoet mekaar

in vierhonderdduisend jaar

is daar niemand anders nie?

ek weet nie

hel, ek sou dankbaar wees

al sien ek jou die eerste keer

in die vuur

Ek glo in jou

en jou goue jare

 

[ André Voice Note]

 

Hey, man, sorry

ek’t nie geweet jy’t die bákkie nodig nie …

Laat ek gou hier kyk …

 

[Herman Voice Note]

 

Daan! Hoop dit gaan goed! Wat maak jy môreaand?

jy’t nie dalk lus om saam met my ’n troue by te woon nie?

Carmen se suster trou

en dit sal lekker wees om jou daar te hê

as jy sou lus wees vir,

ja, bietjie iets anders doen

laat weet my môreaand

 

 

Dis wild daar buite

jy weet daar’s niks so wild soos ek nie

 

Dalk het ek my verbeel

God is geel

maar ons kan nie na hom kyk nie

ons kyk na mekaar

 

As ek hier uit kan kom

draai ek die wêreld om

en keer ek die donker see

om dit terug vir die skare te gee

 

of vir jou

en jou laaste gesonde verstand

ek’s okay

Ja, vir jou

en jou laaste gesonde verstand

jy’s okay

2. STORM

 

Ek wil na jou kyk

ek wil jou baadjie soek

jy weet ek speel vir tyd

voor jy uitgaan

en die wêreld face

Toe ek jou ontmoet

was ek klaar gereis

Ses-en-twintig jaar lank

 

Ek hardloop uit

ons dans by die kar

maar buite tyd

jou voete verward

ons lywe ryg

toe ek jou ontmoet

het die vloer gestyg

na ses-en-twintig jaar

 

en dit storm in jou kop vanaand

as jy só kyk

 

Swart soos die see

skeer dit weer in my

sien jy al deur?

na wat hier aangaan

 

Dit was ‘n koma

maar ek het jou ontmoet

en ek het opgestaan

na ses-en-twintig jaar

 

 

en dit storm in jou

kop vanaand

as jy só kyk

 

weet ek daar is iets rein in my

jou in my

rein in my

jou in my

3. KAR IN DIE REËN

 

Jy sit jou kop op my skoot

ek buk af

ek soen jou wang

 

Ons’t ’n jaar laas gepraat

jy gaan haal

al daai klein

blou boekies

 

Danie, jy moet skryf

skryf vir my

 

 

Maar dis moeiliker op die kantlyn

waar jy kan sien dat skip aan’t brand zijn

en die tandpyn van verstand kry gaan

vir lang tyd aan die gang bly

maar die bang kry nie die brood nie

hulle sink saam met die kaptein

en die land bly vir die muiters om te vind

 

Swart vlag in die wind

dien geen koning

seerower, vry soos die lug

’n gebrande brug breek in die branders

terugkyk het nog niks gesond gemaak nie

4. BLOU

 

Jy’s blou en jy’s groen

jy draai en dit soen

die dood uit my rug

die oewer lig

onder ons bene

vertel al jou vriende

ons het God gesien op die swaai

 

Laat my nou na jou luister

laat lê en laat fluister

jou wimpers op my

splinters van lig

kom uit die donker

vertel al jou vriende

daar’s weer sterretjies in die tuin

 

En dis blou en dis groen

dit draai en dit soen

nog die dood op sy rug

die oewer lig

onder ons bene

vertel al jou vriende

ons het God gesien op die swaai

5. SKEMER

(Maria)

 

In die skemer op blou Stellenbosch

het ons dit maar in die straat gelos

en al die rich kids drink Chardonnay

maar ek moes pak en ry

met die band

 

Ek hoop dat ek jou eendag weer sien

dalk as ek genoeg verdien

en sê

Lief, ek het daai huis toe gekry

ek laat boemelaars daar bly

maar ek en jy kan ry

na ’n saal waar ’n honderd mense

dans in die hooi

weet jy, na al hierdie jare

is jy nog so mooi vir my

 

Emanuel

God was met ons

lig sy mantel

oor die hier en die nou

 

al is dit net vanaand

kan ons dans, man

ek stel jou voor met my van

 

Daar’s wolke in jou Stellenbosch

weet jy, dié songs

het lewens gekos

dis beloftes?

wel, ek kan doen met een

al is dit na die reën

en met die band

 

Dalk was ek deel van die plan

ek lê my neer vir die uitwerk daarvan dan

maar kan ek vra

dat my woorde sal lees

waar mense vergeet

om lief te wees vir mekaar?

 

Emanuel

God was met ons

hou sy mantel

oor die hier en die nou

6. DIE RIVIER

 

Ek wou jou voel vanaand

ek het kerk-toe gegaan

en agter my gebed gesit

 

Onthou jy ons laaste aand?

jy’t so styf vasgehou

as ek nou daaraan dink

was daar iets vêr aan jou

 

Ek weet jy wag vir die Heer

maar Hy kruip in jou rigting weg

ek het sy reuk vergeet

ek kon Hom proe aan jou

 

Ek is nie bang vir hierdie mense nie

ek is hier vir jou

 

Kry my weer by die rivier

ek het als gaan soek

ek het al jou jongdae hier –

tussen die klere –

ek hou die handdoek op

dat jy huil en die lig wegspoel

 

Dis net bloed, my lam

ek lê opgedam

in al hierdie “eendag, dalk” van jou

 

Onthou jy ons eerste aand?

jy’t my wakker gehou

met jou toekomsdroom

daardie man van jou

 

Ek weet jy wag vir jou kans

maar dit kruip in jou ribbes weg

ek het koers verloor

ek begin van voor

en is nie bang vir hierdie mense nie

ek is hier vir jou

7. GAAN HUIS-TOE

     EK KOM NOU

 

Jy kom met jou hare los

en vleg my daarin

druk jou beskuit

in my koffie voor ons sluit

dink jy die Here dink vooruit?

kan ek onderhandel

dat iemand soos jy

na my kyk?

 

Die mense in die dorp word dan stil

en kyk vir ’n teken op

het jy besluit

om daai fokker weg te wys?

dink jy my rus kom maar met tyd?

kan ek onderhandel

dat iemand soos jy

na my kyk?

 

Die vrou sê vir haar man

staan op, ek weet jy kan

ek draai die krane oop -

laat my dan deur jou loop

 

Jy kyk by my wonde in

ek staan, ek is oorwin

sit jou mond

op my brein en sluit my oë

dalk uit die donker

kom die tyd

waar ek weer wandel

of hardloop, kan jy?

 

Die man sê vir sy vrou

gaan huis-toe, ek kom nou

gaan draai die krane oop -

ek wil ons kindjie doop

8. LENIE BLOU III

 

Jy was net

ne’entien jaar oud

Heilige wyn, fok

jy was rein.

Ek trap oor die lyn

Ek is jammer, my ding

 

Die kamer is vol

monsters en rook

ons was gemaak

en toe die wêreld ook

ek sal jou volg

selfs as ons spook

in stede van dood

 

Onthou jy die reën?

ek sien jou met my kinders

daai dinge

maak nie minder seer nie

 

Dis seker beter so

dis goed om dit te glo

en eindig ek nou

los ek dié vir jou

Lenie blou

al was dit dan verniet

was dit als vir jou

 

Jy was net

ne’entien jaar oud

ek het opgefok

 

ek weet jy’t my vertrou

reën dit binne jou

ook in silwer, my ding?

 

Die kamer is vol

monsters en seer

ek is deur die hel

vir ons gaan ek weer

met jou op my rug

sal die duiwel my sien

en dit groen om ons huil

 

Onthou jy die reën?

ek sien jou met my baadjie

ek sou jou nooit raak kon raai nie

 

Dis seker beter so

dis goed om dit te glo

en eindig ek nou

los ek dié vir jou

Lenie blou

al was dit dan verniet

was dit als vir jou

 

Dis seker beter so

dis goed om dit te glo

en eindig ek nou

los ek dié vir jou

9.    ROOI EN SAFFIER

 

Was ons eers een?

het ons verloor?

is daar nog

van jou bloed in my oor?

 

Rooi en saffier

om weer te begin

die dood was te duur

maar toe stap jy in

 

Hel, jy was lank

langer as die pyn

ek soek weer die son

met die skemer aan my sy

 

Uiteindelik jy

10.  SY DRA WIT OP DIE BRUG

(Geen lirieke)

 

11.  MAYDAY

 

Sy kom in roosmaryn

sy’s bewende lig

sy staan op die lyn

 

Is daar nog tyd

vir liefde ná pyn?

sê my, Liewe Jesus

is my kwota bereik?

 

Mayday

 

Sy hang oor my droom

soos rooi papier

sy flikker in my

sy’t iets gestuur

 

Ek ruik die reën

dit hang weer swaar

ek hoor die skare sing:

ek sal jou dra

 

Mayday

 

Twee siele ontmoet mekaar

in vierhonderdduisend jaar

is daar niemand anders nie?

ek weet nie

Hel, ek sou dankbaar wees

al sien ek jou die eerste keer

in die vuur

 

12. WORD WAKKER

(’n paar mooi oomblikke)

 

13 . BOKSER

 

Sy sê sy’s ’n bokser

sy hou my tuinrose vas

met merke op haar hande

dink jy my bene sal hou

vir nog ’n laaste hou

 

en ek mompel deur die skade

dink jy daai jare kom nou

jy’s die fighter in die skare

ek hoop maar ek val dan

aan jou

 

Sy sê sy’s ’n bokser

sy kyk na die houe op my

ek kom uit die koue

maar daar’s iets in my hart

wat nog gloei

waar dit soms ook bloei

 

14. GOLWE

Ek wou jou soek

om te sê dat dit reën

en dat die ketel kook

want die skare is almal nou heen

my moerse planne ook

 

Ek sien jou op die golwe

my ding

ek sien iets wat in my blink

 

Ons het gestap

tot Brass Bell se rant

om ons terug te neem

jy trap skaars ’n spoor in die sand

jy staan die winde teen

 

Ek sien jou op die golwe

my ding

ek sien iets wat in my blink