“Droombrief” 

Songs en lirieke deur Danie du Toit.

Musiek deur Spoegwolf

  1. Bring My Geweer

bring my geweer

bring my dogter ook

ek wil haar een keer sien

ek het wakker gelê 

en jou in skrefies gehou


as ek verloor

dra my na die boom

waar valke gereeld gaan sit

ek en my broers 

sal mekaar weer gaan soek in die wind


sal my waarheid hou tot by jou

waarookal jy nou is?

ons was drenkelinge, enkelinge

saam word die stroom ons rus


trek af die gordyn

maak die ysterkis oop

ek’t haar boek daarin gesit

as sy dit weer lees

sal ons weef aan mekaar in die wind


gaan haal vir Ben

hy moet leer hoe om die perde van die veld in te breek

hy’s ook daardeur

maar Heer, daar’s nog wild wat in hom steek


sal my waarheid hou tot by jou

waarookal jy nou is?

ons was drenkelinge, enkelinge

saam word die stroom ons rus


voor ek op wind vertrek

bring eers my perde weer na die water

drink en wees verlig

roep al my mense dan om my nader

dra die kinders in

hier gaan die engele nou vergader 

hand aan hand loop ons huistoe

vlerk aan vlerk gaan ons na die Vader

hang my hoed aan die spyker

begrawe al my verwyte

ek sien hoe naby my tyd is

so kom ons kry laaste kyke

ek weet jou hart is nog myne

jy was met liefde nooit suinig

ek voel 'n fok vir die duiwel

Lig wen die stryd in die einde

(is al my sondes vergewe?

belowe? hand op die Bybel?)



  1. Val In, Val Uit


’’n Voorwoord in Voice Notes


"Yes, my vriend, geen druk nie. Um … 

om die waarheid te sê, as julle nie kan nie kan julle glad nie. 

Julle’s maar net oorkant die pad en julle’s altyd welkom! 

By all means - val in, val uit!"


"Yes, almal! Daar’s free kos, maar ongelukkig nie free drank nie… 

maar ja. Asseblief. Ons begin sesuur, 

daar gaan ’n moerse feast wees en ek maak al die kos wat on het, hierso. Ja. 

Voel welkom om te kom join! Dit sal lekker wees om julle almal hier te hê. 

Check julle maybe sesuur vanaand? By Drum!"


"Haai! Hulle speel, um, ‘Kort Dônner’ op Bok Radio (‘trek jou lip styf …’)"


"Danie! I'm assuming this is still your number? 

Unfortunately, I'm not going to be able to make it to a braai … 


This 'braai-pie' sounds incredible and I'm very sad that I'm missing out on it, 

but ja. Thanks again for the invite and, um, enjoy."



2. Slapende Honde


dink jy ek sal daar uit kan kom? 

daardie dag 

in die kerksaal, in die somer?

dink jy die wild in my sal aanhou slaap?

jy't met joune my bedaar


en nou, by jou

die son rus op slapende honde

jy't verander

en ek het ook


ek weet jy sal my nooit verraai nie

nie as die wind of die dood of die Here deur jou waai nie

jy weet ek sal jou nooit verraai nie

nie as die wind of die dood of die Here deur my waai nie


dink jy ek's sterk genoeg om als te hou?

’’n dak oor ons kinders, ’’n kaggel in die winter

dink jy ek sal my stories nog kan skryf?

ek wil iets oor jou, sterker as tyd

in harte bou

so diep as die blou


die son sak oor slapende honde

jy't verander

ek het ook


ek weet jy sal my nooit verraai nie

nie as die wind of die dood of die Here deur jou waai nie

jy weet ek sal jou nooit verraai nie

nie as die wind of die dood of die Here deur my waai nie


3. Raas In Die Straat


as dit raas in die straat

dink ek aan jou

op die bed met jou bril aan

jou vierkanthorlosie is vyf minute vroeg

wel, ek het dertig jaar gewag


as dit swaar om my raak

strek ek na jou

kan jy my uit my hel help?

nee, ek sal saam met jou val

waarookal jy val

wel, ek het dertig jaar gewag


4. Droombrief (feat. Johan Du Toit)


ek stuur vir jou 'n droombrief

want die wêreld woed te veel vir woorde so broos soos dié

met kogelbaai groen en sonneblomgeel

en ek het gaan soek vir jou in die hoeke van my tuin

en woorde getrek uit ’’n stukkende pet

toe ek met my hele hart in liefde geglo het


ek stuur vir jou ’n dinkbrief

want niks maak meer sin in die wêreld nie

kan jy hierdie lees?


hallo


ek gaan vanaand

as daar oor is 

pasta bolognese maak vir jou

en ek is nie lekker nie

maar ek sal ’n kers aansteek

om die seerste te onthou


(een, twee, drie, vier)



5. Stukkend


dit reën in Bethlehem

ek was lanklaas by die huis

jy stuur foto’’s wat die amandelbome wys


hoe raas jou oë soos die skemer se see

jou klere wolk weg voor die maan

ek het verdwaal, en ja, dis seer

maar baie is al erger deur


jou stem is soet

ek hoor dit wel

maar ek het oud geword en

my kop is seer

jou woorde drom

ek is vêr van als


ons het nie tot hier gekom om op te gee nie

jy dink ek’s stukkend? jy’t geen idee nie

kyk hoe trek ons teëstand oor die heuwel saam

kyk hoe hulle hardloop


ek het jou in my donker leer ken

jy was die glinstering van goud

ek het geskarrel, soos ’n eekhoring deur jou woud


môre is ek weer op die pad

ek dra jou oral met my mee

soms as ’n droom

soms as ’n wolkbreek-miltsteek


jou stem is soet

ek hoor dit wel

maar ek het oud geword en

my kop is seer

jou woorde drom

ek is vêr van als


ons het nie tot hier gekom om op te gee nie

jy dink ek’s stukkend? jy’t geen idee nie

kyk hoe trek ons teëstand oor die heuwel saam

kyk hoe hulle hardloop

as ek opstaan


ja, jy 

staan los 

van die skare

trek my nader

(ons het nie tot hier gekom om op te gee nie

jy dink ek's stukkend? jy't geen idee nie)


kyk hoe trek ons teëstand oor die heuwel saam

kyk hoe hulle hardloop

as ek opstaan



6. Voel Jy Dit Ook?


jy vra dat ek die handdoek aangee

nee, nie joune nie

als is suurlemoen en son


jy soek ’n rok om te dra

nee, nie daai een nie

daar dans ’n kind in ons gordyn


ek wil nou al my planne ruil

alles wat ek gedoen het

vir ’n sondag by die huis


jy bring die blomme uit die voortuin

blomme uit die voortuin


voel jy dit ook? waar jy gaan, waar jy gaan?

in al die rook is dit ons wat saam

deur die heelal val en die skemer uitbrand

deur die heelal val en die skemer uitbrand


ek wou die wêreld hê

noudat ek ouer is sou ek meer wou gee as gryp

ons word soos brode gebreek

om ander te dien 

met die laaste van my lyf


wil ek nou al my planne ruil

alles wat ek gedoen het

vir ’n sondag by die huis


jy bring die blomme uit die voortuin

blomme uit die voortuin


voel jy dit ook? waar jy gaan, waar jy gaan?

in al die rook is dit ons wat saam

deur die heelal val en die skemer uitbrand

deur die heelal val en die skemer uitbrand



7. Donker


ek het ’n foto van ons

as ek nou daarna kyk

was jy nog altyd op my soos die son

en in die stem van die Heer

as ek nou daaraan dink

is jy nog altyd die wind in my klere


ek sou Pretoria toe kon ry

met my fiets en boek vol rym

ek sou die platteland saamsleep

as ek gedink het ek kan dit vir jou gee


want jy’s, oooh

wilder as my donker

jy’s die wyn in my bloed

maak my een keer weer jonger

een keer by jou is genoeg


ek het ’n padkaart van ons

op die are van my hande

ek sou werk vir jou met stene en grond

en as die hemel bestaan

sal ek vra dat die engele on huistoe kan dra

ek is dronk

ek is opgefok, maar


ek sou Pretoria toe kon ry

met my fiets en boek vol rym

ek sou die platteland saamsleep

as ek gedink het ek kan dit vir jou gee


want jy’s, oooh

wilder as my donker

jy's die wyn in my bloed

maak my een keer weer jonger

een keer by jou is genoeg


8. Spoke (Tussenspel)


la, la da da

la da dee, la da da

la, la da da

la da da, da

da


9. Deinings


ons het mekaar in die huis gekry

als was te veel, te swaar, te donker vir my

ons slaan ons kamp met komberse op

nooi jy die honde, nooi die Here ook


jy in jou blou

ek wens ek was aangetrek vir jou


is jy bang vir die mense hier rond?

die dood in hul oë

ek sal liewer met spoke

spoke om jou

iets van die liefde onthou


ons kan soos deinings van die see

mekaar verloor en nader tree


ons het mekaar in die dorp gekry

jy was die lig, hoog bo water oor my

is elke skild wat ek herken

ook gekraak, ’n hartseer oog se lens?


jy in jou blou

ek wens ek was aangetrek vir jou


ek is bang om eendag te gaan

’n dood sonder jou

ek sou liewer soos spoke

wat wolk oor die veld

iets van die liefde vertel


ons kan soos deinings van die see

mekaar verloor en nader tree

ons kan soos deinings van die see

mekaar verloor en nader tree


ek sal in kan gee


.



10. Vergeet


wys my wat jy is, wat jy is

is vir my bedoel

ek is uitgewis, uitgeblus

jy kan deur my lewe


slegte tydings 

is net seisoene

jy maak die houe 

deel van my hartklop


kan ons vanaand vergeet 

dat ons almal doodgaan?

ek wil langs jou lewe

kan ons vanaand vergeet 

dat ons almal doodgaan?

ek wil langs jou lewe

ek wil langs jou lewe


maak my lyf jou rus 

as ons rus

sal ek die geraas uithou

dra my soos jou ring

soos jou ring

ek sal aanhou klou

aanhou


slegte tydings 

is net seisoene

jy maak die houe 

deel van my hartklop


kan ons vanaand vergeet 

dat ons almal doodgaan?

ek wil langs jou lewe

kan ons vanaand vergeet 

dat ons almal doodgaan?

ek wil langs jou lewe

ek wil langs jou lewe


check one

round two

featuring Vuurwolf


terug vir die ne'ende

dis waar dat ek geseënd is, 

in die verlede was ek verlore, 

ek’t gevoel as of ek vreemd is

ek het gesukkel met die 

hartseer en die leemtes

jy’t gesorg'at al'aai donkerte vergeet is


as my redder kom jy aan, jy bring’ie teengif

jou teenwoordigheid voel ek in my gebeentes

lig ve'teer al'ie dinge wat koud en wreed is

in 'n wêreld so vol van dit wat verkeerd is


hou die salf vir die 

plekke waar ek beseerd is 

vat my hand en ons sweer’it voor die gemeente

ken my hart en die dinge wat ek beleef het

raak my siel, dis ’’n teken dat ek gereed is


ringomvinger, jy’s sekerlik my vir ewig

'n goue stem, nog mooier as my verbeelding

woorde wat 

skit-te-rend sing en vir my weer heel bring

seël my krake met blommetjies wat gekleurd is


"Wow, wow, wow, wow, wow, wow, wow. 

Dit is so baie - baie, baie cool. 

Wow. Congratulations, man!"



11. Kerse


gaan haal my liefde op Stellenbosch

sy dra haar hare met die wind, kort en los

sê vir haar ek’t lank gewag

ek het regop gestaan

en niks was in my hart



behalwe haar wit rok, daai kerkklok

en al ons vriende saam

my pa-hulle kuier saam

onder ou, uitgedansde kerse


in al die rook van oorloë het ek dit gehoor

iets soos “hallo”

of “ek was altyd lief vir jou”


met hierdie lewe

en dalk die volgende

met hierdie lewe


gaan los my wapens op Stellenbosch

gee vir haar my

my ou silwer ring

sê vir haar ek’t hard geveg

gestaan vir dit wat reg is

maar niks was dieper

as die water in haar oë

ek kon in mooi glo


en die nag op bly

die liggies lyk soos jy

in ons ou, uitgedansde kerse


in al die rook van oorloë het ek dit gehoor

iets soos "hallo"

of "ek was altyd lief vir jou"


met hierdie lewe

en dalk die volgende

met hierdie lewe


Original Song & Lyrics by Danie Du Toit.

Music Written & Arranged by Spoegwolf.

© Spoegwolf (PTY) LTD, 2022.