WIND

Songs en lirieke deur Danie du Toit

Musiek deur Spoegwolf

Kletsrym deur Albert van der Merwe

1. Nat Straat


as blomme soos ou foto's bruin word
as die kamerkombers ineenstort
het ek en my een op mekaar uitgemis 

maar weet ek nou dat jy myne is

as die reënweer soos swaar sterre daal
as mense soos monsters mekaar aanval
het ek en my een amper mekaar uitgewis
maar weet ek nou dat jy myne is

jy is jonk in hierdie weergawe van ons
maar soek my
ek het al my mooi verloor in die son
maar soek my in my swart vere

as geboue soos ou soldate lê
as almal weer die dood van ’n goeie man wil hê
is ons ’n wind wat nooit sal rus
dan weet ek nou dat jy myne is

as fonteine soos vuurwerke skiet
as die Here die hele plek uitgiet
onderstebo, sal ek jou nog mis
en weet ek nou dat jy myne is

2. Uitsoek



jy skop in my hart
elke keer as ek op wil gee
sing jy uit die swart

 

kom nou, my rots

ek weet jy kan

jy klop teen my slaap
en blom na die reënseisoen
baie goeie dinge doen
hoe gaan daai kort Bybelvers?
sal jy bly as ek onthou?

tot die sterre val
tot die berge strome word
ek sal jou uitsoek
as die vonke stort
as selfs die engele vyande word
ek sal jou uitsoek

die Heer het in 'n ligskeur gegly
met hande vol verf kom vat
aan als in ons vallei
hoe draai die rooiwolk-kombers
oor die Drakensteinberg

ek sien ons twee daar bly
ek weet wat ek reg moet maak -
ek het jou gebruik
hier staan 'n man soos 'n vers

teen die rots uitgekerf

3. Simonstad

 

jy staar met oë vol son

ek onthou
Simonstad was toegedraai in blou
ek het die trein gevat na jou
kruisement en sudoku


jy het nie vyande nie
’n agtertuin vol reën
wie het nie vuil hande nie
ek het my pa se jas geleen
om jou te vra of jy sal trou


te jonk om te besluit
jy wou saam met my groei
jy wou saam met my buig
en val in die eggo van ’n woud –

jy wou my hê as jou grootste fout      

jy staar met oë vol son
jy staan langer as wat enigiemand kon by my

ek onthou
Simonstad was toegedraai in jou
ek was stukkend vasgehou
half vuisvoos en donkerblou

al my vyande toe
het afgesaal en rondgestaan,

die see het gewoed
ek het my pa se mes geleen,

maar wat is dit teen ’n geweer?          
jy staar met oë vol son
jy staan langer as wat enigiemand kon by my

4. Heen en Weer

as ons alles in die vloed verloor
as niemand hierdie songs wil hoor nie
sal jy ’n plekke kry in die son
lief, ons kan dans hier
jy kan nog dans hier

en die oomblik draai om en om, my kind 
pyn word kuns
kuns word wind
en die wêreld draai om en om en ons
ons val neer
een vir een
en die klokke swaai heen en weer

en ek, ek soek jou hier  
hier by my

as ons alles teen mekaar verloor
en net ons lywe in die koue oor het
kan jy ’n plekkie kry in die son
lief, ons kan dans hier  
jy kan nog dans hier

5. Londen 

in die silwer weer is berge pikswart en room
jy’s die bleek prinses, “mister, ek het ’n droom”
het jy my vergeet in Londen?

ons dop om ons reënwater-emmers en sit in die stort
jy't jou hand op my wang, ‘lief, wat het jy geword?’
het jy my vergeet in Londen?'

kom sien my weer
in volkleur
ek weet ek moes jou my hele hart gee

ons klere was ons seile
hoog in die wind
ek het jou verloor

maar jy’t my gevind  
toegedraai in swart
en sonde

ek soek haar reuk nog somtyds diep in my trui
daar's ‘n bries in ons elkeen
toe jy waai vir my
het dit als geskeur
met sonlig

en was ons weer
in volkleur
ek weet ek wil jou my hele hart gee

6. Stem in die wind

 

hey
ek voel beter as ek jou voel
ek dink ek was te bang om gelukkig te wees
maar jy sleep my mee

ek het jou nie weer sien kom
sommer so - so maklik en lief nie

gedink dit is ’n fight om jou mens te vind
maar sy vind jou stem in die wind    


ek hoor jou stem in die wind

hey
 jy bloei pienk in my wintervallei

ek dink ek was te bang daai man te wees

maar jy sleep my mee

in hierdie opgefokde game van bloeisels en seer

gedink dit is ’n fight om jou mens te vind    

 ja hoor daai
stem in die wind
ek hoor jou stem in die wind    
ek het jou nie weer sien kom
sommer so
so maklik en lief nie

7. STROOMOP

 

is ons teen die stroom, of teen mekaar?
wat lê daar, en hoe’s dit sowaar alweer
in jou hare vanaand, en in my arms vanaand?

dis stroomop vir nou
ek is stroomop vir jou
wat mag kom
kan maar kom
ek’s hier

hoe duur   
hoe swaar
hoe ver  
hoe veel

hoe groot
hoe donker
wat mag kom, kan maar kom

is ons teen die vloei, of teen mekaar?
wat lê daar, en hoe’s dit sowaar alweer
dat ons bloei uitmekaar
as ons groei uitmekaar?

dis  stroomop vir nou
ek gaan stroomop vir jou
wat mag kom
kan maar kom
ek’s hier

hoe duur

hoe swaar
hoe ver   

hoe veel   

hoe groot 

hoe donker
wat mag kom, kan maar kom

As dit weer reën

 

die donker
het die heel nag gewaai
die oggendgeel brand silwer populiere
ons drink koffie in die bed
jy weet dat ek sal terugkom

voor die dag omdraai    
net ek en jy sal weet
net ek en jy sal weet

jou mond is ’n storm
jou lyf my rus
klou aan my soos ’n skaduwee
ons lewe’s ’n stroom
en alles voor dit doodgetrek en uitgevee

die donker
het die heel nag gedrom
die oggendlig kaleidoskoop die sonligvensters
soos vlamme op die bed
jy weet dat ek sal terugkom

voor die dag omdraai    

 

 

13 . BOKSER

 

Sy sê sy’s ’n bokser

sy hou my tuinrose vas

met merke op haar hande

dink jy my bene sal hou

vir nog ’n laaste hou

 

en ek mompel deur die skade

dink jy daai jare kom nou

jy’s die fighter in die skare

ek hoop maar ek val dan

aan jou

 

Sy sê sy’s ’n bokser

sy kyk na die houe op my

ek kom uit die koue

maar daar’s iets in my hart

wat nog gloei

waar dit soms ook bloei